Hoe om depressie te hanteer

2019-02-28
Psalm 42:6-7 NLV

Sommige van die gelowigste mense in die Bybel en in die geskiedenis van die kerk het teen depressie gestry. Job het dit deur die verlies van sy kinders, sy rykdom en sy gesondheid ervaar. Selfs al het ‘…die Here [het] met Moses gepraat soos vriende wat gesels en mekaar in die oë kyk…’ (Eksodus 33:11 NLV), het die druk om Israel te lei, Moses tot by die punt van wanhoop oorweldig. Elia het die profete van Baäl by Karmelberg oorwin en daarna so depressief geword dat hy wou sterf. Charles Haddon Spurgeon, een van die grootste predikers wat al ooit geleef het, het depressie die ‘swart hond’ genoem wat hom sy hele lewe lank gevolg het. Depressie sal ons almal in een of ander vorm in ons lewe aanraak. Langtermyn depressie neem langer om te oorkom. Die langste pad in die wêreld word egter korter wanneer jy die eerste tree neem, en daardie eerste tree is om na God toe te draai. Of jou depressie nou deur die druk van verantwoordelikheid soos Moses veroorsaak word, of deur die verlies van dinge wat jy liefhet soos Job, of omdat jy soos Elia gedreineerd voel nadat jy ‘n groot sukses bereik het, jy moet na die Groot Geneser toe draai en Hom toelaat om jou weer heel te maak. Dis wat die Psalmdigter gedoen het. Dawid ontken nie sy emosies nie; hy druk hulle aan God in gebed uit. ‘Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld?..’ (Psalm 42:6 NLV). Hy hou egter nie daar op nie. Hy sê: ‘…Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God!’ (vers 12 NLV). Depressie lig en hoop keer terug wanneer jy God prys en sy goedheid vertrou.

Soul food: Eks 16-18; Luk 12:35-48; Ps 66:13-20; Spr 6:23-25