Die Heilige Gees – die ekstra faktor
2019-02-24Johannes 14:26 NLV
Hoekom beskryf ons die Heilige Gees as die ekstra faktor? Drie redes: 1) Die Heilige Gees bepaal die gawes en vaardighede wat jy ontvang. ‘Dit is een en dieselfde Gees wat al hierdie gawes bewerk en wat aan elkeen uitdeel soos Hy dit goedvind’ (1 Korintiërs 12:11 NLV). As jy dus soos ‘n vierkantige pen in ‘n ronde gat voel, vra die Heilige Gees om jou te wys wat jou gawes is. Vra Hom dan om die deur oop te maak en jou guns by die regte mense te gee. Hy sal dit doen. 2) Die Heilige Gees weet waar jy hoort. Die Bybel sê: ‘Deur die Heilige Gees uitgestuur, het Barnabas en Saulus na Seleukië toe afgegaan…’ (Handelinge 13:4 NLV). Waar jy jouself bevind, maak saak. As jy byvoorbeeld ‘n walvis is, is jy gebore om in die oseaan te swem. As jy ‘n voël is, is jy bestem om in die lug te vlieg. Gedurende ‘n hongersnood het God vir Elia na die Kritspruit toe gestuur en gesê: ‘…Ek sal die kraaie beveel om vir jou kos te bring’ (1 Konings 17:4 NLV). As Elia besluit het om eerder te bly waar hy was, sou hy hierdie wonderwerk misgeloop het. Jy hoef nie iets te doen om God se liefde te ervaar nie, maar jy moet sy stem ken en sy aanwysings volg om sy seën te ervaar. 3) Die Heilige Gees kan aanstoot neem. ‘Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie…’ (Efesiërs 4:30 NLV). Wanneer ‘n duif (wat die Heilige Gees in die Skrif verteenwoordig) na sy nes toe terugkeer, sal hy nie land as die nes beskadig is nie. Vra God dus om jou meer bewus van die teenwoordigheid van sy kosbare Heilige Gees te maak; en maak jou hart ‘n plek waar Hy altyd tuis sal voel.
Sielskos: Eks 20:4; Isa 44:6-20; Rom 1:21-25