Weet verseker wie jy is

2019-02-23
Romeine 12:6 NLV

Onseker mense sê dikwels ja, wanneer hulle eintlik nee wil sê. Mense wat egter tevrede met hulself is, laat nie ander mense toe om hulle te beheer nie. Hulle sien hulself soos God hulle sien; hulle word dus deur sy Woord, in plaas van die vrees vir verwerping, gelei. Jy kan só hard probeer om almal gelukkig te hou, dat jy jouself verloor. Voel jy of jy nie alles kan wees wat mense wil hê jy moet wees nie? Wil jy nee sê, maar die vrees om ander mense te mishaag laat jou aanhou instem? Intussen bou die druk binne-in jou op en jy dink, ‘Ek kan hierdie nie meer doen nie’? Moenie vir die mense wat meer en meer eise aan jou stel kwaad word nie. Jy is die een wat verantwoordelik is om jou eie lewe te reël! Dit verg ‘n duidelike sin van jou eie waarde, jou roeping, jou rigting, jou doelwitte en jou prioriteite. ‘n Christelike skrywer sê: ‘Vir jare het ek onder die druk van almal se verwagtings geleef. Ek het gedink, ‘Wat as ek hulle in die steek laat?’ Ek het gedink dat hulle my onder druk plaas, terwyl dit egter my eie vrese en onsekerhede was wat my afgetrek het. ‘Gee jy dan nie om wat ander mense dink nie?’ vra jy. Wat ander mense dink is nie my probleem nie, tensy ek dit my probleem maak. My eerste prioriteit is om God te behaag en te wees wie Hy wil hê ek moet wees. As ek iemand anders probeer wees, sal ek sy seën prysgee, want God kan nie ‘n namaaksel seën nie.’ Die oplossing is om daaraan te werk om seker te wees wie jy in Christus is. Alles anders sal dan in plek val.

Sielskos: Eks 4-6; Luk 11:45-54; Ps 53; Spr 6:9-11