Wat is jou netto waarde?

2018-12-29
Spreuke 13:22 NLV

Daar word 203 keer na erfporsies in die Bybel verwys, dus moet God dink dat dit belangrik is. Salomo skryf, “‘n Goeie mens laat iets na vir kleinkinders…” In die menslike koninkryk is jou ‘netto waarde’ die somtotaal van alles wat jy besit. In God se koninkryk is jou netto waarde egter gelyk aan die somtotaal van alles wat jy al weggegee het. Wat jy nie deel nie is vir ewig verlore, maar wat jy in God se hande plaas, word ‘n ewige aandenking. Moses Montefiore was die eerste Jood wat ‘n hoë regeringsposisie in Londen beklee het. Hy is in 1837 deur koningin Victoria tot ridder geslaan – dieselfde jaar wat hy tot balju van Londen verkies is. In later jare het hy deur sy filantropie bekendheid verwerf. Hy het sewe reise na die Heilige Land onderneem, die laaste keer toe hy een-en-negentig jaar oud was. Sy liefde vir die Heilige Land kan deur sy finansiering van ‘n tekstielfabriek, ‘n drukkery, ‘n windmeul en verskeie agrikulturele kolonies in Palestina, herken word. Op sy honderdste verjaarsdag het die London Times verskeie artikels oor sy deugde geskryf. Hy het ‘n fortuin deur besigheidsondernemings en eiendomme bymekaar gemaak. Toe ‘n verslaggewer hom oor sy netto waarde uitvra, het hy egter ‘n bedrag genoem wat baie kleiner was as sy fortuin. ‘Jou netto waarde is sekerlik baie meer as dit!’ het die verslaggewer gesê. Sir Moses het geantwoord, ‘Jy het my nie gevra hoeveel ek besit nie, jy het my gevra hoeveel ek werd is. Dus het ek opgetel hoeveel ek vir liefdadigheid gegee het. Ons is net soveel werd soos dit wat ons gewillig is om met ander te deel.’ Wat is jou netto waarde? In God se oë is dit die somtotaal van alles wat jy al weggegee het.

Sielskos: Job 36-38; Luk 2:34-40; Ps 139:1-12; Pred 11:4-6