Wenke vir reisigers (1)
2018-12-18Filippense 2:13 NLV
Soos jy deur die lewe op jou geestelike tog reis, is daar twee wenke wat jy moet onthou: 1) Met God is geen ervaring ooit ‘n vermorsing nie. Dit sluit die pynlike en moeilike ervarings in. Ons mag dalk mense met ons sterkpunte beïndruk, maar ons vind dikwels die beste aanklank met hulle deur oor ons struikelinge te praat. Sommige van die ervarings wat jy huiwerig is om met hulle te deel, mag dalk inderwaarheid die presiese ding wees wat hulle laat dink, ‘As God dit vir jou kon doen, dan kan Hy dit vir my ook doen.’ Met ander woorde, jy sal hulle hoop gee. 2) Om sukses in God se koninkryk te behaal, moet jy ander mense dien. Kyk na Josef. Hy het sy talent, faam en rykdom gebruik om die wêreld in ‘n tyd van hongersnood te voed; sy beloning het eers later gekom. Wanneer jou doelwit is om aan ander mense se behoeftes te voldoen, sal jy altyd beloon word en sal jy altyd ‘n toekoms hê. Jesus het nie vir Petrus gesê om ‘n skare te gaan bymekaar maak sodat hy mense sou hê om voor te preek nie. Nee. Hy het eenvoudig gesê, ‘…Gaan versorg my lammers’ (Johannes 21:16 NLV). Pastoor, as jou kerkbanke op ‘n Sondag leeg is, moet jy meer doen as om die mense daarvoor te blameer. Vra jouself af, ‘Hoe is die kos? Hoe is die diens?’ Solank as wat daar ‘n geestelike honger is wat niemand anders vervul nie, sal jy ‘n toekoms en ‘n bediening hê. Soos wat jy hierdie twee wenke vir reisigers oordink, bid en vra God om hulle deel van jou lewe te maak.
Sielskos: Job 5-7; Luk 1:11-18; Ps 105:37-45; Pred 7:9-12