Reik uit na hulp

2018-12-14
Spreuke 17:17 NLV

Beraders gebruik die frase ‘terminaal uniek’ omdat mense met verslawings dink dat hulle probleem uniek is: ‘Ander mense sal my verwerp as hulle van my probleem weet. Ek sukkel al so lank daarmee dat ek nie glo dat ek dit ooit sal oorwin nie.’ Dus isoleer hulle hulself en lewe in wanhoop en depressie. Een skrywer merk op: ‘So dikwels is ons geneig om ons lewens weg te steek. Skande en skuldgevoelens weerhou ons daarvan om ander mense te laat weet waarmee ons sukkel. Ons dink, ‘As my familie en vriende van die donker begeertes van my hart en my vreemde gedagtes geweet het, sal hulle my wegdruk en uit hulle geselskap weglaat.’ Die teenoorgestelde is egter waar. Wanneer ons durf om ons beker op te lig en ons vriende toe te laat om te sien wat daarin is, sal hulle aangemoedig word om hulle bekers op te lig en al hulle angstige geheime met ons te deel. Die grootste genesing vind dikwels plaas wanneer ons nie meer deur ons skande en skuldgevoelens geïsoleer voel nie en ontdek dat ander mense dikwels voel wat ons voel, dink wat ons dink en dieselfde vrese, sorge en behepthede het wat ons het.’ Moenie laat trots jou daarvan weerhou om jou probleem te oorwin nie. Wanneer jy die moed bymekaar kan skraap om eerlik met jouself en ander te wees, sal jy genesing vind. Lees hierdie twee Skrifgedeeltes: ‘Op ‘n vriend se lojaliteit kan jy altyd reken. Jou broer is gebore om jou te help…’ ‘In al ons swaarkry bemoedig Hy ons… sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het’ (2 Korintiërs 1:4 NLV). Die woord vir jou vandag is: Reik uit na hulp.

Sielskos: Est 1-4; Joh 20:19-31; Ps 105:8-22; Pred 7:1-4