Moenie jou passie verloor nie
2018-11-29Hebreërs 12:2 DB
Betreffende Jesus, sê die Bybel: ‘… Hy het dit alles verdra omdat Hy geweet het dat daar soveel blydskap daarna vir Hom wag… Hou Hom gedurig in gedagte… As julle sy voorbeeld volg, sal julle nooit moedeloos word en tou opgooi nie’ (verse 2-3 DB). Dis jou visie wat jou passie voed. Het jy al ooit agtergekom hoe God dikwels die ergste sondaars in sy grootste dienaars transformeer? Dis omdat hulle passievol is en sodra daardie passie geharnas en herlei word, word hulle effektief in sy koninkryk. Nou verstaan jy hoekom die Vyand so hard probeer om jou te vernietig. Hy weet dat daar geen keer aan jou sal wees sodra jy jou passie met God se plan in lyn gebring het nie. Passie is geestelike energie. In plaas daarvan om te probeer om jou passie te onderdruk, laat God dit herlei. Jesus het vir die kerk in die eindtyd gesê, ‘…Ek weet dat jy nie koud of warm is nie. Ek sou wat wou gee as jy maar net koud of warm was’ (Openbaring 3:15 NLV). Met wie praat Hy? Belydende Christene wat lewe, trou, kinders kry, karre koop, beleggings maak en al die dinge van hulle moderne eweknieë doen, maar dit sonder passie doen. Hulle gaan net deur die bewegings. Die Bybel sê, ‘Beproef en sien…’ (Psalm 34:9 NLV). Met ander woorde, neem posisie in en swaai die kolf! Wat daarvan as jy mis? Jy sal verseker mis as jy nie die kolf swaai nie! Jou instink vir selfbehoud kan jou van die enigste kans wat jy dalk in die lewe kry, beroof. As jy dus vandag lê, staan weer op. As jy misluk, probeer weer. Vra God om die vure van passie weer binne jou aan die brand te blaas.
Sielskos: Gen 20-23; Joh 14:1-14; Ps 118:10-18; Spr 31:10-13