Hoe om ‘n ‘dubbele erfgenaamsdeel’ te ontvang

2018-11-26
2 Konings 2:9 NLV

In die Ou Testament, ‘…sê Elia vir Elisa: ‘Wat kan ek vir jou doen voordat ek van jou weggeneem word?’ ‘Laat my asseblief ‘n dubbele erfgenaamsdeel van u gees ontvang,’ antwoord Elisa. ‘Jy vra my ‘n moeilike saak,’ antwoord Elia. ‘As jy sien hoe ek van jou af weggeneem word, sal jy dit ontvang’…’ (verse 9-10 NLV). Elisa het sy ‘dubbele erfgenaamsdeel’ ontvang en aangegaan om twee keer soveel wonderwerke as sy mentor, Elia, te doen. Die sleutelfrase hier is: ‘As jy sien hoe ek van jou weggeneem word, sal jy dit ontvang.’ Met ander woorde, ‘Bly naby aan my en dan kan jy dit kry.’ Let op die vier plekke waar Elisa vir Elia gevolg het: 1) Gilgal. Dis waar die Israeliete besny is (sien Josua 5). Jy moet deur God se Gees gelei word en vir jou vleeslike natuur nee sê – en dis ‘n moeilike ding om te doen. 2) Bet-El. Dis waar Jakob sy hemelse visioen gehad het (sien Genesis 28:19). Tensy jy ‘n visie het wat van God af kom, sal jy doelloos deur die lewe dryf. 3) Jerigo. Dis waar Josua van aangesig tot aangesig met God gekom het en gebid het, ‘…Wat wil Meneer vir sy dienaar sê?’ (Josua 5:14 NLV). Dis eers wanneer jy heeltemal aan God oorgee, wat jy oorwinning sal ervaar. 4) Jordaan. Omdat die Jordaanrivier in die Dooie See uitloop, verteenwoordig dit die dood. Wees dus voorbereid daarop om jou eie begrafnis by te woon – elke dag (sien 1 Korintiërs 15:31). Paulus het gesê, ‘Ek leef nie meer nie, maar Christus lewe in my… (Galasiërs 2:20 NLV). Wil jy ‘n dubbele erfgenaamsdeel van God se Gees ontvang? Jy kan dit kry, mits jy aan hierdie voorwaardes voldoen.

Sielskos: Gen 10-12; Joh 13:1-17; Ps 95; Spr 30:29-33