Wees daar (1)

2018-05-25
Romeine 12:8 NLV

Ons sê, ‘Dis nie my verantwoordelikheid nie. Ek wil nie betrokke raak nie!’ Het jy al ooit hierdie woorde gesê? Jy mag dalk dink dat jy ‘n goeie rede gehad het – miskien was dit ‘n ongerieflike tyd – maar die punt is dat jy nie aangebied het om iemand in nood te help nie. Jy is nie alleen nie. Navorsing wys dat die neiging om betrokkenheid te vermy wêreldwyd aan die toeneem is. Nietemin is dit ‘n Bybelse mandaat om ‘daar te wees’ vir ander mense; dis die praktiese toepassing daarvan om God en jou naaste lief te hê (sien Matteus 22:37-39). Krisisse doen hulle gewoonlik op drie maniere voor: 1) Situasie krisisse wat ernstige siektes, die dood van ‘n geliefde of die ineenstorting van familieverhoudings insluit. Die patriarg Job het almal van hulle ervaar! 2) Krisisse wat as gevolg van die verloop van tyd ontwikkel – om die huis te verlaat, om universiteit toe te gaan, huweliksaanpassings, ouerskap, aftrede of gesondheid wat afneem. Abraham en Sara het van hierdie tipe krisisse geweet. Hulle het hulle huis en familie verlaat en jare van kinderloosheid verduur. Toe het God hulle nog boonop gevra om hulle ‘wonderwerk’ seun te offer. 3) Self-bewuste krisisse is wanneer jy ontstellende waarhede oor jouself ontdek – jy word vertel dat jou siekte, menslik gesproke, nie behandelbaar is nie, of jy sien jouself as ‘n mislukking omdat jy te oud voel om jou lewensdoelwitte te bereik. Miskien staar die realiteit jou in die gesig dat jy geskei of ‘n wewenaar of weduwee is, of jy voel as gevolg van jou agtergrond verwerp. Mense soos Elia en Jona is voorbeelde van self-bewustelike krisisse. Laat enige van hierdie voorbeelde jou aan iemand dink? Wees dan daar vir hulle.

Sielskos: Rig 12-15; Mark 11:1-11; Ps 97; Spr 13:9-10