Sorg beter vir jou liggaam

2018-03-08
1 Korintiërs 6:20 NLV

Tensy jy jou liggaam versorg, mag jy dalk gouer hemel toe gaan as wat jy beplan. Die Bybel sê dat ons God met ons liggame moet verheerlik. Hoe doen ons dit? 1) Verander jou dieet. Baie van ons eet vir die verkeerde redes – soos stres, verveeldheid, moegheid, woede, depressie en lae selfbeeld. Probeer om by die wortel van jou probleem uit te kom. Onvoldoende groente, vrugte en vesel en te veel kitskos kan jou gesondheid verwoes. Oefen selfbeheersing uit. ‘Christene is mense wat die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig het’ (Galasiërs 5:24 NLV). 2) Begin oefen. Die geheim is om stadig te begin. Neem die trappe in plaas van die hysbak, parkeer jou kar en stap, speel met jou kinders bal. God het jou liggaam ontwerp om te beweeg en dit beteken nie om elke oggend van jou kar na jou lessenaar toe te wandel nie. Om drie keer ‘n week vir dertig minute te oefen sal jou bloeddruk en stres verminder. 3) Gaan vroeër bed toe. Pastoor Tony Jenkins het sy dokter oor sy vrou se snorkery geraadpleeg. ‘Pla dit jou regtig so baie?’ het die dokter gevra. ‘Dit pla nie net my nie,’ het Jenkins geantwoord. ‘Dit pla die hele gemeente!’ Op ‘n ernstiger noot, jy het agt ure slaap nodig. Jy kan heel waarskynlik op minder slaap funksioneer, maar wil jy regtig moeg deur die lewe gaan? Die Psalmdigter het gesê, ‘Tevergeefs werk jy so hard van vroegoggend tot laatnag, soos jy swoeg om te bestaan, maar vir hulle wat Hy liefhet, gee Hy dit in hulle slaap’ (Psalm 127:2 NLV). Skakel dus die televisie en die rekenaar af en gaan klim op ‘n redelike tyd in die bed. Sorg beter vir jou liggaam!

Sielskos: Op 15-18; Matt 21:33-46; Ps 136:13-26; Spr 6:32-35