Geheime vir selfbeheersing (7)

2018-03-06
Galasiërs 5:16 NLV

Maak op Christus se krag staat om jou te help.   ‘… Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie.’  Let op dat dit nie sê dat jy glad nie daardie begeertes sal hê nie. Geesgevulde mense ervaar steeds die begeertes van die menslike vlees, dis net dat hulle nie daaraan toegee nie.  Ons het dit gewoonlik andersom. Ons sê, ‘Ek is nie goed genoeg om God se Gees in my lewe te hê nie. Sodra ek my lewe in orde kry, dan gaan ek toelaat dat die Heilige Gees my lewe beheer.’  God sê nie, ‘Kry jouself onder beheer en dan sal Ek jou help’ nie. Hy sê, ‘Laat my Heilige Gees jou beheer terwyl jy steeds met die probleem sukkel. Ek sal jou help verander.’ Dit maak ‘n groot verskil. Jy sal nie sê, ‘Ek gaan eers beter word en dan gaan ek die dokter sien nie.’ Dis absurd! Jy het Christus nou in jou lewe nodig! Hy het die mag om jou te help verander. Jy sê, ‘Maar ek geniet wat ek doen.’ Dit is omdat daar ‘…kortstondige genieting van die sonde’ (Hebreërs 11:25 NLV), is. Niemand van ons sal sondig as dit ons onmiddellik ongelukkig maak nie. Moenie van God verwag om die versoeking van sonde tot niet te maak nie; vra Hom vir die krag om die versoeking te oorkom. ‘Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou, en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen!’ (Filippense 2:13 NLV). Jy sal die begeerte en krag ontvang om dit te doen wat reg is.

Sielskos: Op 5-9; Matt 21:1-17; Ps 77; Spr 6:29