Kry ‘n vennoot in gebed; bid in ooreenstemming

2017-12-20
Matteus 18:19 DB

Becky Smith was vier-en-tagtig jaar oud en haar suster Christine was twee-en-tagtig. Die jare het Becky se sig geneem en Christine se liggaam gebuig, sodat hulle nie meer kerk toe kon gaan nie. Tog het die kerk hulle nodig gehad. Hulle het op die eiland, Lewis, langs die kus van Skotland gewoon. ‘n Geestelike donkerheid het op hulle dorpie, Barvas, neergedaal. Die gemeente het mense verloor en die jong mense het die geloof gespot deur te sê dat bekering ‘n plaag is. In Oktober 1949 het die Ring van die Vrye Kerk van Skotland hulle lede gevra om te bid. Wat kon twee bejaarde, huisgebonde susters egter doen? Nogals baie, het hulle uitgevind. Hulle het hulle huisie in ‘n huis van gebed wat deurnag aangehou het, omskep. Van 10:00 nm tot 4:00 vm, twee nagte ‘n week, het hulle God gevra om hulle dorpie genadig te wees. Na verskeie maande het Becky vir Christine gesê dat God die volgende woorde tot haar gespreek het: ‘Want Ek sal jou water gee, genoeg om jou dors te les en jou droë lande nat te lei…’ (Jesaja 44:3 NLV). Sy het haar pastoor aangemoedig om ‘n opwekkingsdiens te hou en die bekende evangelis Duncan Campbell uit te nooi om ‘n praatjie te kom lewer. Toe Campbell weier om te kom, het sy aangehou: ‘God het gesê hy kom en hy sal oor twee weke hier wees.’ Dit het so gebeur! Vyf weke lank het Campbell elke aand vir groot skares gepreek, om 07:00 nm, 10:00 nm, om middernag en 3:00 vm. Sondaars is bekeer, kroeë het as gevolg van ‘n gebrek aan klante toegemaak en die eiland, Lewis, het die teenwoordigheid van God gesmaak – omdat twee vroue in ooreenstemming gebid het.

Sielskos: Job 11-14; Luk 1:26-38; Ps 47; Pred 9:16-18