Vriendskap (4)

2017-10-10
Spreuke 27:6 ABA

Hier is twee kwaliteite wat enige vriendskap permanent kan vestig: eerlikheid en lojaliteit. Die Bybel sê, ‘Wanneer ‘n vriend jou seermaak, dan doen hy dit omdat hy jou vriend wil bly. Wanneer iemand jou die hele dag wil aanhou soen, dan haat hy jou.’ ‘n Ware vriend mag jou dalk ontstel deur vir jou die waarheid te vertel, maar hy of sy sal dit nietemin vir jou vertel. Hulle mag dalk nie altyd vir jou vertel wat jy wil hoor nie, maar as hulle jou waarlik liefhet, sal hulle jou vertel wat jy nodig het om te hoor. Dit mag dalk in die korttermyn seermaak, maar dit sal jou op die lange duur help. Wanneer jy ‘n verhouding wil meet om te bepaal of dit as ware vriendskap kwalifiseer, is daar twee vrae wat jy die ander persoon moet vra: 1) Kan ek jou vertrou om heeltemal eerlik met my te wees? 2) Kan ek jou genoeg vertrou om heeltemal eerlik met jou te wees? Net ‘n ware vriendskap verwag en oorleef sulke wedersydse eerlikheid. ‘Daar kan ook ‘n vriend wees vir wie jy liewer is as vir jou eie broer’ (Spreuke 18:24 NLV). Lojaliteit is die een ding wat ‘n persoon nooit van sy of haar vriend moet bevraagteken nie. ‘n Ware vriend sal jou verdedig voor hy of sy jou oordeel. Daar is nie iets soos ‘n ‘mooiweers’ vriend nie. Jy het nie vriende nodig wanneer dit goed gaan nie, jy het vriende nodig wanneer dinge sleg lyk. ‘n Mooiweers vriend is glad nie ‘n vriend nie.

Sielskos: Eks 16-18; Joh 1:43-51; PSA.1; Spr 26:13-16