Wanneer jy ‘n mentor kies (2)

2024-08-21
Spreuke 4:7 NLV

‘n Pastoor deel die volgende: ‘Die proses om met die hulp van ‘n mentor te groei, volg gewoonlik hierdie patroon: Dit begin met bewustheid. Jy besef dat jy hulp nodig het en om op jouself staat te maak nie ‘n lewensvatbare opsie vir effektiewe persoonlike groei is nie. Wanneer iemand tot so ‘n besef kom, kan een van twee dinge gebeur. Eerstens weerhou die persoon se trots hom daarvan om iemand anders vir raad te vra. Die tweede reaksie is om jouself te verootmoedig en te sê: ‘Ek het jou hulp nodig.’

Hierdie reaksie lei nie net tot groter kennis nie, maar dit ontwikkel ook dikwels volwassenheid in jou. Dit versterk ook die wete dat mense mekaar nodig het – nie net wanneer jy jonk is en jou loopbaan begin nie, maar dwarsdeur jou lewe. Die mentors wie se raad jy volg, help om jou te vorm. As jy tyd met mense wat jou aftrek, verkleineer en onderwaardeer bestee, sal elke stap wat jy vorentoe probeer neem, moeilik wees. As jy egter wyse leiers, goeie rolmodelle en positiewe vriende vind, sal jy agterkom dat hulle jou reis versnel.

Maak nie saak wie jy is, wat jy al bereik het of hoe laag of hoe hoog die lewe jou al geneem het nie, jy kan daarby baat om ‘n mentor te hê. As jy nog nooit een gehad het nie, het jy geen idee hoe dit jou lewe kan verbeter nie. As jy al voorheen mentors gehad het, weet jy dit – en moet jy hierdie kennis begin oordra deur ‘n mentor vir ander te wees. Jy weet dat dit moeilik is om te verbeter wanneer jy net op jouself aangewese is.’ Bekom dus wysheid en deel dit met diegene wat dit nodig het.

Sielskos: 2 Kro 8-11; Luk 15:1-10; Ps 119:89-96; Spr 21:20-23