Wanneer jy ‘n mentor kies (1)

2024-08-20
Spreuke 9:9 NLV

Hoe verder jy jou potensiaal nastreef, hoe meer nuwe grond sal jy moet breek. Dis waar jy baat by ander mense se ervarings kan vind. Soos ‘n Chinese gesegde sê: ‘Om die pad vorentoe te ken, vra diegene op pad terug.’ Wanneer jy ‘n mentor kies, moet jy vir twee dinge oplet:

1) Iemand wat wysheid het. Die begrip, ervaring en wysheid van mentors help ons om probleme wat ons moeilik op ons eie sal hanteer, op te los. Wyse mense gebruik dikwels net ‘n paar woorde om ons te leer en te ontwikkel. Hulle maak ons oë vir wêrelde wat ons andersins nie sou sien nie, oop. Hulle help ons om moeilike situasies te navigeer. Hulle help ons om geleenthede raak te sien wat ons andersins sou miskyk. Hulle maak ons wyser as ons jare en ervaring.

2) Iemand wat vriendskap en ondersteuning bied. Jesus het vir diegene wat Hy gementor het gesê: ‘…Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie’ (Hebreërs 13:5 NLV). Die eerste ding wat volgelinge by ‘n mentor wil weet is: ‘Gee jy vir my om?’ Die rede vir hierdie vraag is voor die hand liggend. Wie wil deur ‘n persoon gelei word wat nie in hulle geïnteresseerd is nie? Selfsugtige mense sal jou net sover dit hulle eie agenda bevorder, help. Goeie mentors gee vriendskap en ondersteuning en werk onselfsugtig om jou te help om jou potensiaal te bereik. Kennis sonder ondersteuning is steriel. Raad sonder vriendskap voel koud. Eerlikheid sonder omgee is hard. Wanneer jy egter deur ‘n persoon wat vir jou omgee gehelp word, is dit emosioneel vervullend. Ontwikkeling kom uit beide die kop en die hart. Net mense wat omgee is bly om beide met jou te deel.

Sielskos: 2 Kro 5-7; Luk 14:25-35; Ps 119:81-88; Spr 21:17-19