Jy kan die versoeking weerstaan (1)

2024-08-02
1 Korintiërs 10:13 NLV

Satan word ‘die versoeker’ en ‘die aanklaer’ in die Skrif genoem. Eerstens sal hy jou versoek en wanneer jy daartoe ingee, sal hy jou aankla. Hy wil hê dat jy onwaardig in God se oë moet voel. Jy is egter nie! ‘Hierdie Hoëpriester van ons kan ten volle met ons in ons swakhede saamvoel, want Hy moes presies dieselfde versoekings as ons trotseer – behalwe dat Hy nie voor die sonde geswig het nie. Kom ons gaan dan met volle vrymoedigheid na die troon van ons genadige God. Hy sal aan ons sy deernis en onverdiende goedheid bewys sodat ons op die regte tyd gehelp sal word’ (Hebreërs 4:15-16 NLV).

Wanneer jy misluk kan jy met volle vertroue na God gaan, met die wete dat Hy jou nie net sal vergewe nie, maar jou ook van die genade wat jou in staat sal stel om die versoeking die volgende keer te weerstaan, sal voorsien. Ons almal word versoek; dis ‘n onvermydelike deel van die lewe. Selfs gelowiges wat al baie jare met die Here stap, word versoek. Jy kan egter versoeking weerstaan.

Een van die eerste stappe om dit te oorwin, is om die regte dinge te begin sê. Die Bybel sê: ‘Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde’ (Spreuke 18:21 NLV). Jou woorde gee lewe aan dit wat jy sê. Begin dus om God se Woord te spreek. Jesus het gesê: ‘En Ek het julle gesag gegee oor alle mag van die vyand… Niks sal julle beseer nie’ (Lukas 10:19 NLV). Eis hierdie belofte vandag op, want God sal jou die krag gee om dit wat Hy beloof het, te doen.

Sielskos: Esra 9-10; Luk 10:25-37; Ps 78:17-31; Spr 19:27-29