Om iets af te leer

2024-07-28
Hosea 4:6 NLV

Versuim om irrasionele vrese en wanopvattings af te leer, weerhou ons daarvan om te word wie God wil hê ons moet wees. Die lam man in Johannes 5 is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Hy was al vir agt-en-dertig jaar verlam voor Jesus hom gevra het of hy gesond wil word. Die man het egter geglo dat daar net een manier was om genees te word: “…’Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in'” (Johannes 5:7 NLV).

Hierdie man het iets aangeneem wat hom dalk agt-en-dertig jaar gekos het! Hy het gedink om genees te word, moes hy die eerste persoon wees wat in die waterbad by Betesda klim wanneer ‘n engel die water roer. Hy is in ‘n sekere sin deur daardie gedagte gevange gehou. Jesus het egter hierdie onakkurate oortuiging met een sin verwyder: “…’Tel jou slaapmatjie op en loop'” (vers 11 NLV). Jesus het hierdie man fisies en kognitief bevry.

Geloof is om die sinlose bekommernisse en verkeerde oortuigings wat ons gevange hou, af te leer. Dis wat ons doen wanneer ons die Skrif bestudeer. Ons gradeer letterlik ons denkpatrone op deur die gedagtes van Christus af te laai (sien 1 Korintiërs 2:16). Om iets af te leer is twee keer so moeilik as om dit in die eerste plek te leer. Hoekom? Want elke myl wat jy in die verkeerde rigting gaan, is inderwaarheid ‘n twee myl-fout, aangesien jy weer na die beginpunt moet terugkeer. Om ou gedagtes uit jou denke te kry, is moeiliker as om nuwe gedagtes daarin te kry. Dis egter die moeite werd. Neem dus elke dag tyd om jou gedagtes met God se Woord te vernuwe.

Sielskos: Matt 5:20; 1 Tess 2:13-3:5; 1 Kor 4:11-13; Op 6:9-11