Moenie bang wees om te misluk nie (2)
2024-07-241 Korintiërs 9:16 NLV
Kom ons kyk weer hoe om die vrees vir mislukking te oorkom. 1) Streef jou Godgegewe lewensdoel na. Om waarlik sukses in iets te behaal, moet jy ‘n passie daarvoor hê. God sal nie net sy doel aan jou openbaar nie, maar jou ook die passie gee om dit na te streef. Paulus het die gawes, opvoeding en konneksies gehad om ‘n verskeidenheid loopbane te kon volg. Hy het egter geskryf: ‘…Ek is verplig om [die Goeie Nuus te verkondig]. Wee my as ek dit sou nalaat!’ Waaroor voel jy passievol? Bestudeer dit; dis ‘n leidraad tot jou lewensdoel.
2) Vra jouself die volgende drie vrae af: a) ‘Wat is die ergste wat kan gebeur as ek nie suksesvol is nie?’ Jy sal steeds vir God, jou talente, jou familie en ander geleenthede hê. b) ‘Is dit al ooit vantevore gedoen?’ Indien nie, wat maak dit saak? c) ‘Is hierdie vrees ‘n teken dat ek nie die regte mense, prosesse of planne in plek het om op hierdie tyd sukses te behaal nie?’ Vra dan die groot vraag: ‘Wat is die voordele wat ek gaan geniet indien ek sukses behaal?’
Kyk jou vrees daagliks in die gesig en verklaar: ‘Ek kan onder alle omstandighede regkom deur Hom wat my krag gee’ (Filippense 4:13 NLV). Moenie hierdie Skrifgedeelte net opsê omdat jy dit so goed ken nie. Absorbeer die woorde; neem hulle in jou gees op. Weet dat Christus vir jou krag gee om tot eer van God sukses te behaal. Weet dat wanneer Hy jou lei, Hy jou van alles voorsien om sukses te behaal in dit wat Hy jou geroep het om te doen.
Sielskos: Nah 1-3; Luk 9:1-17; Ps 14; Spr 19:1-4