Herinner jouself aan God se Woord (2)
2024-05-21Jakobus 1:5 NLV
Wanneer jy ‘n moeilike toets of eksamen moet deurkom. Die vrees vir mislukking kan veroorsaak dat jou brein op die oomblik wat jy nodig het dat jou gedagtes vrylik moet vloei, vries. Wanneer jy weet dat jy jou bes gedoen het om die materiaal te bestudeer en jouself voor te berei, moet jy God vir die resultate vertrou en jouself aan Sy Woord herinner:
‘Vertrou op die Here en doen wat goed is… Wees bly in die Here, en Hy sal jou hartsbegeertes aan jou gee. Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg’ (Psalm 37:3-5 NLV).
‘Vra My, en Ek sal jou ‘n antwoord gee. Ek sal jou van ongelooflike dinge vertel. Dit is nou nog vir jou ‘n geheim…’ (Jeremia 33:3 NLV).
‘Hy sal roep, en Ek sal antwoord; in nood sal Ek by hom wees. Ek sal hom red en in eer herstel’ (Psalm 91:15 NLV).
‘En wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het’ (Johannes 14:26 NLV).
‘Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:22 NLV).
Moenie bang wees nie; God sal saam met jou gaan wanneer dit tyd is om daardie toets of eksamen te gaan skryf. Lank voordat jy gebid het, het Hy reeds jou hart en gedagtes voorberei: ‘Ek sal hulle antwoord nog voor hulle na My roep. Terwyl hulle vra, sal Ek hulle gebede verhoor’ (Jesaja 65:24 NLV). Maak jou rug dus reguit en stap daardie eksamenlokaal met die wete dat God by jou is, binne!
Sielskos: Rig 1-3; Mark 10:1-12; Ps 88:1-9a; Spr 13:1-3