Herinner jouself aan God se Woord (1)

2024-05-20
Jesaja 44:22 NLV

Wanneer jy sukkel om jouself te vergewe. Daar word net een onvergeefbare sonde in die Bybel genoem (sien Lukas 12:10). As gelowige het jy waarskynlik nie hierdie sonde gepleeg nie, dus sal God jou vir alles anders vergewe. Wanneer God egter sê dat Hy jou vergewe en jy weier om jouself te vergewe, pleeg jy die sonde van trots, want wanneer God jou vergewe en jy weier om jouself te vergewe, plaas jy jou opinie bo syne.

As jy sukkel om jouself te vergewe, herinner jouself aan God se Woord: ‘Ek, ja, Ek alleen, is die Een wat julle sondes uitwis. Ek doen dit ter wille van Myself en dink nie weer daaraan nie’ (Jesaja 43:25 NLV). ‘Ek het jou sondes weggevee soos wolke verdwyn. Ek het jou oortredings verstrooi… Keer terug na My toe, want Ek het jou gered’ (Jesaja 44:22 NLV). ‘Die goddelose mens moet sy verkeerde dinge los, en die bose mens sy slegte gedagtes. Hy moet terugdraai na die Here en Hy sal hom genadig wees. Ja, draai na God, want Hy sal altyd vergewe!’ (Jesaja 55:7 NLV). ‘Jy sal jou sondes onthou. En dan sal jy stilbly omdat jy skaam kry, dié dag as Ek jou vergewe vir alles wat jy gedoen het, sê die oppermagtige Here’ (Esegiël 16:63 NLV). ‘As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:9 NLV). ‘Vir hulle wat aan Christus Jesus verbind is, is die oordeel nou heeltemal weggeneem’ (Romeine 8:1 NLV).

Is jy aan ‘Christus Jesus verbind’? Verbly jouself dan; jy hoef nie langer onder die gewig van veroordeling te struikel nie. God het jou heeltemal vergewe, vergewe dus jouself en beweeg aan.

Sielskos: Rut 1-4; Mark 9:38-50; Ps 18:30-50; Spr 12:25-28