Bewyse van Christus se opstanding (1)
2024-03-291 Korintiërs 15:4 NLV
Vertrou die feit dat Jesus uit die dood opgestaan het! Hier is twee bewyse daarvan:
1) Die dag van die Here. Vir duisende jare lank het die Hebreeuse mense die Sabbat op die sewende dag van die week gevier. Later, het ‘n groep vroeë Christene die Sabbatsdag na die eerste dag verander! Hoekom sou hulle ‘n tradisie waaraan hulle so lank standvastig vasgehou het, verander? As gevolg van die opstanding van Christus wat op die eerste dag van die week plaasgevind het, sy verskyning aan die dissipels op die eerste dag van die week en die uitstorting van sy Gees op die kerk, ook op die eerste dag van die week.
2) Die viering van Paasfees. Paasfees het die plek van die Joodse Pasga ingeneem. Hoekom het die Jode, wat die Pasga as die belangrikste gebeurtenis in hul nasie se geskiedenis gesien het, dit prysgegee om eerder Paasfees, wat die belangrikste fees onder Christene is, te vier? Tydens Paasfees groet mense mekaar met: ‘Christus het opgestaan!’ en antwoord mekaar: ‘Christus het waarlik opgestaan!’ Hierdie Paasfeesvieringe kan tot by die vroeë Christene, wat dit na Jesus se opstanding begin vier het, teruggespoor word.
Paulus skryf: ‘Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het… was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan… Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge tegelyk verskyn…’ (1 Korintiërs 15:3-4, 6 NLV).
Sielskos: Gen 22:1-18; Matt 27:32-56; Ps 22; Jes 53