Leer om na God te luister (4)

2024-03-19
Galasiërs 1:18 NLV

God se leiding sal dikwels deur ‘n seisoen van voorbereiding gevolg word. Die lengte van daardie seisoen word deur die grootte van jou opdrag bepaal. Wanneer God dus met jou praat, is dit nie altyd wys om dit dadelik vir almal te gaan vertel nie. Wie sal nie oor die wonderbaarlike ervaring wat Paulus met Christus op die Damaskuspad gehad het, wil praat nie? Daar sou ‘n regte tyd kom vir Paulus om daaroor te praat, maar nie direk daarna nie. Moet dus nie beweeg tot God vir jou die groen lig gee nie. Hoekom nie?

Om twee redes: 1) Jy het tyd nodig om volwasse en toegerus te word sodat jy die woord wat jy ontvang het, in jou kan laat wortel skiet, groei en op die manier wat God wil hê, kan vervul. 2) Soms neem God tyd om die mense na wie Hy jou toe stuur, se harte voor te berei. Paulus skryf: ‘…Ek het nie dadelik met mense gepraat nie. Ek het ook nie na Jerusalem toe, na hulle wat voor my apostels was, gegaan nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet…’ (verse 16-18 NLV).

Paulus het geweet dat mense nie sy bediening sou glo nie, dus het hy die wysheid gehad om te wag. Hy het God toegelaat om voor hom uit te gaan en die situasie voor te berei. Terwyl hy gewag het, het hy die Woord wat hy ontvang het toegelaat om te groei en veranderinge in sy lewe te maak. Toe eers het hy begin doen wat hy geroep is om te doen. Paulus het nie enigiemand probeer oortuig nie; hy het dit aan God oorgelaat. Wat was die eindresultaat? ‘En hulle het God oor my geprys’ (vers 24 NLV).

Sielskos: 2 Kon 18:17-20:21; Matt 25:1-23; Ps 115; Spr 8:1-3