Leer om na God te luister (3)
2024-03-181 Johannes 2:27 DB
Wanneer jy ywerig bid en glo dat jy van God gehoor het, maar dan vir ander mense begin vra wat hulle daaroor dink, eer jy hulle opinies bo God s’n. Hierdie tipe ingesteldheid sal jou daarvan weerhou om ‘n verhouding waar jy konstant van Hom hoor, te ontwikkel. Jy moet Hom vertrou. As jy slegte besluite in die verlede gemaak het, kan dit moeilik wees. Jy moet egter leer om na God te luister, sonder om aanhoudend by ander mense gerusstelling te kry. Die Bybel sê: ‘…sy Gees het by julle kom bly… Niemand moet julle dus allerhande dinge kom wysmaak of probeer leer nie. Die Heilige Gees is julle onderwyser en gids in alles wat waar is… Steur julle daarom aan niks en niemand anders nie, behalwe aan die Gees en wat Hy julle geleer het (vers 27 DB).
Dit beteken nie dat jy nie onderrig in God se Woord nodig het nie; dit beteken dat jy God se Gees het wat in jou woon en wat jou persoonlik sal rig en lei. Dit mag dalk nodig wees dat jy van tyd tot tyd iemand vir raad vra, maar jy hoef nie aanhoudend na ander mense te gaan en hulle opinies oor die besluite wat jy in jou lewe maak, te vra nie.
As jy ooit die vermoë om na God te luister en deur sy Gees gelei te word wil ontwikkel, moet jy jou eie besluite begin maak – en die wysheid wat God in jou hart geplaas het, begin vertrou. Die duiwel wil jou laat dink dat jy nie in staat is om God se stem te hoor nie. Moenie hom glo nie. Die Gees wat in jou woon sal vir jou vertroue, vertroosting en raad vir jou lewe gee. Leer dus om na Hom te luister.
Sielskos: 2 Kon 16:1-18:16; Matt 24:29-51; Ps 26; Spr 7:26-27