God en jou werk (3)
2023-12-30Eksodus 31:2 NLV
Die eerste persoon wat in die Bybel genoem word wat met die Gees van God vervul was, is Besaleël. As sy naam nie ‘n klokkie lui nie, is dit omdat hy nie ‘n profeet, priester, koning of apostel was nie. Hy was ‘n ambagsman wat vaardig in ontwerp was. Hy het ‘n oog vir kleur en ‘n aanvoeling vir bestuur gehad en toe dit tyd was om die tabernakel te bou, het hy die projek bestuur.
Hier is wat God oor hom gesê het: ‘Ek het Besaleël… gekies. My gees gee vir hom kennis en begrip en vaardigheid om verskillende dinge te kan doen. Hy kan kunstige voorwerpe uit goud, silwer en brons maak. Hy kan edelstene sny en monteer en houtsnywerk doen. Hy kan enige kunswerk maak’ (Eksodus 31:2-5 NLV).
Dink jouself in dat jy Besaleël is. Van kleins af is jy lief daarvoor om met jou hande te werk. Jy weet nie dat God daarby betrokke is nie – maar Hy is! Hy het inderwaarheid daardie begeertes binne-in jou geplaas. Wanneer jy werk, is die vreugde wat jy voel eintlik die teenwoordigheid van God. Jy het sekere sterkpunte waarmee jy gebore is. Hulle sal altyd jou sterkpunte wees en jy put plesier daaruit. Wonderlike dinge gebeur wanneer jy daardie sterkpunte ontdek, hulle begin gebruik en daarop fokus om hulle te verbeter.
Wanneer jy in jou Godgegewe plek is en met jou Godgegewe sterkpunte werk, is jy op jou beste. Wanneer dit gebeur, word jy en almal rondom jou geseën. Die punt is: in God se plan, was Besaleël net so belangrik soos Moses. Hou dus moed; dit wat jy doen, maak saak!
Sielskos: Mal 3-4; Joh 21:15-25; Ps 139:13-24; Spr 31:28-31