‘n Hele nuwe benadering

2023-12-24
Johannes 1:14 NLV

Toe die engel vir Maria besoek het, het hy gesê: ‘Moenie bang wees nie, Maria… want God het besluit om jou te seën!’ (Lukas 1:30 NLV). Tog, wanneer dit daarby kom om God direk te nader, word baie godsdienste deur vrees geregeer.

Philip Yancey sê: ‘Die Jode het verseker vrees met aanbidding geassosieer. ‘n Persoon wat met ‘n direkte ontmoeting met God ‘geseën’ is, het verwag om verskroei, gloeiend of dalk half kreupel soos Jakob daaruit te kom. Onder mense wat ‘n aparte heiligdom vir God in die tempel afgebaken het en nie sy naam wou uitspreek of spel nie, het God ‘n verrassende verskyning as baba in ‘n stal gemaak. In Jesus het God ‘n manier gevind om met mense in ‘n verhouding wat nie vrees behels nie, te staan. ‘n Nuwe Verbond wat nie die kloof tussen God en die mensdom sou beklemtoon nie, maar dit eerder sou oorbrug.

Ek het van vleeswording geleer toe ek ‘n soutwater-akwarium aangehou het. Jy sou dink, in die lig van al die energie wat ek op hulle bestee het, dat my visse darem dankbaar sou wees. Dit was egter nie die geval nie. Elke keer as my skaduwee bo die tenk opgedoem het, het hulle vinnig weggeswem om skuiling te soek. Om hul persepsie te verander sou ek ‘n vis moes word en met hulle in ‘n taal wat hulle kon verstaan, moes ‘praat’. ‘n Mens wat ‘n vis word, is niks in vergelyking met God wat ‘n baba geword het nie. Tog is dit wat in Bethlehem gebeur het. God het ‘n storie, deur regte karakters te gebruik, op die bladsye van die regte geskiedenis, geskryf. Die Woord het vlees geword.’

Sielskos: Jes 11:1-10; Luk 1:39-56