Stille Nag?
2023-12-23Lukas 1:31 NLV
Ons sing die woorde van hierdie Kerslied al van kindsbeen af. Die woorde van die lied kom egter nie uit die Skrif nie. ‘Stille Nag’ is ‘n gedig wat deur ‘n Oostenrykse priester in 1816 geskryf is. Die woorde roep ‘n rustige prentjie met die gelukkige paartjie wat hul pasgebore baba dophou, op.
Dit is egter onwaarskynlik dat daar stilte was. Na ‘n uitputtende reis op ‘n donkie, het Josef en die hoogswanger Maria nie by die grootste kamer van die Bethlehem Grand Hotel ingeboek nie. Hulle het gesmeek dat hulle die stal, kompleet met die gekletter en geure van staldiere kon gebruik – wat alles behalwe stil was! Vra enige ma uit oor geboorte. Selfs met die hulp van moderne pynstillers en gesteriliseerde omgewings bly die dapperste vrou selde stil terwyl sy geboorte skenk. Dit was kwalik ‘n stille nag vir Maria, Josef en Jesus!
Heilige nag: Van al die nagte in die geskiedenis, was hierdie die heiligste. God het sy ewige plan om aarde toe te kom as die Verlosser van verlore mense in werking gestel. ‘Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en nie die mense se oortredings teen hulle hou nie…’ (2 Korintiërs 5:19 NLV). Jesus het gekom om die sondes van die verdoemde mensdom op Homself te neem, sodat ons: ‘…op grond van ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan word’ (vers 21 NLV).
Op hierdie heiligste nag is ons geestelike en morele donkerte vir ewig deur Jesus, die Lig van die wêreld, verdryf. Ons vrese as verlore sondaars is deur die vrede en vreugdevolle versekering dat ons sy ewige vergewe volk is, vervang.
Sielskos: 2 Tim 1-4; Joh 19:31-42; Ps 128; Spr 31:10-13