Wanneer jy kwaad word (1)
2023-12-15Jakobus 1:19 NLV
Die Bybel gee ons drie sleutels om ons woede op die regte manier te hanteer. Kom ons kyk na elkeen en wat ons daaruit kan leer:
1) ‘Wees altyd gou om te luister.’ Moenie reageer nie en moenie haastig wees om te oordeel nie. Probeer eers die feite agtermekaar kry en oorweeg dan, versigtig en met gebed, hoe God wil hê jy moet reageer.
2) ‘Nie te gou om te praat nie.’ As jy onseker is of nie weet nie, sê net so. Daar is ‘n ou Chinese spreuk wat lui: ‘Dis beter om niks te sê en soos ‘n dwaas te lyk, as om jou mond oop te maak en alle twyfel uit die weg te ruim.’ Jy sal nie vir dit wat jy nie sê nie, later hoef te verduidelik of verskoning voor te vra nie.
3) ‘Nie te gou om kwaad te word nie.’ Die Bybel sê nie dat jy nooit moet kwaad word nie. Dit sê dat jy oor die regte dinge, op die regte manier, op die regte tyd moet kwaad word. Salomo sê: ‘…Moenie gou kwaad word nie; ergenis hoort by dwase’ (Prediker 7:9 NLV).
Daarom is dit so belangrik om jou seer te hanteer. ‘n Wond wat nie genees nie veroorsaak pyn wat dikwels in woede manifesteer. Die probleem is dat ons ons woede saam met ons dra en dit op ander uithaal. Gevolglik distansieer hulle hulself van ons, of wantrou ons, of ontneem ons die intimiteit en nabyheid wat ons van hulle begeer. Die Bybel sê: “‘n Verstandige mens hou homself in bedwang. Hy stel sy eer daarin om ander se oortredings oor te sien” (Spreuke 19:11 NLV). ‘n Christelike karakter groei deur geduld, liefde en selfbeheersing uit te oefen.
Sielskos: Kol 3-4; Filemon; Joh 17:1-12; Ps 105:16-22; Spr 30:10-14