Moenie bang wees om te misluk nie
2023-12-14Josua 1:5 NLV
Omdat ons deeglik van ons beperkings bewus is, is ons geneig om ons doelwitte tot ons gemaksone te beperk. Dit kan tot ‘n lewe van middelmatigheid en onvervulde drome lei. Jou inspanning rus egter nie alleenlik op jou skouers nie, maar op God s’n. Ja, jy het ‘n deel om te doen. Wanneer jy egter jou beste gedoen het, moet jy God vertrou om die res te doen.
God het vir Josua op die drumpel van die Beloofde Land gesê: ‘…Soos wat Ek by Moses was, so sal Ek ook saam met jou wees. Ek sal jou nooit in die steek laat nie. Ek sal jou nooit los nie. Wees sterk en dapper…’ (verse 5-6 NLV). Jou vermoëns is beperk, maar God s’n is onbeperk.
Die vrees vir mislukking is dikwels op die verkeerde oortuiging dat sukses slegs op ons eie vermoë rus, gebaseer. Omdat ons van ons beperkings bewus is, bly ons in ons gemaksone in plaas daarvan om die reuse in die beloofde land aan te pak.
Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê in lyn met God se wil is, moet jy dapper wees en weet dat jy uiteindelik sal slaag. ‘Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister. As ons dan met die wete leef dat Hy na ons luister, na wat ons ook al vra, weet ons ook dat Hy die versoek wat ons gevra het, sal toestaan’ (1 Johannes 5:14-15 NLV).
Wanneer jou vertroue in God is, word jou sukses gewaarborg. Wanneer jy weet dat dit wat jy wil hê ook is wat God wil hê, kan jy in krag vorentoe beweeg.
Sielskos: Kol 1-2; John 16:19-33; Ps 105:8-15; Spr 30:5-9