Winde wat teen jou waai (3)
2023-12-11Psalm 148:8 NLV
Die winde was teen Moses toe hy die Israeliete uit Egipte gelei het, dit was teen hulle op pad na die Beloofde Land en dit was teen hulle toe hulle daar aankom. Daar is nie so iets soos ‘n reis sonder storms nie: ‘…Ons moet eers deur baie verdrukking gaan voordat ons voluit aan die koningsheerskappy van God kan deel hê…’ (Handelinge 14:22 NLV).
Wanneer jy dag na dag moet veg om kop bo water te hou, is dit maklik om moedeloos te raak. Paulus het gesê: ‘Baie dae lank het die son en die sterre nie eers deurgekom nie… Uiteindelik is alle hoop laat vaar dat ons gered sou word’ (Handelinge 27:20 NLV). Voor jy egter tou opgooi, vra jouself die volgende af: Wat as God die Een is wat die storm gestuur het om jou te kry waarheen jy moet gaan? Wat as Hy die Een is wat: ‘…praat, en die winde steek op, en die golwe word al hoër’ (Psalm 107:25 NLV), sodat jy jou oë op Hom moet hou? Wat as Hy die een is wat: ‘…’n sterk wind oor die see laat opkom…’ (Jona 1:4 NLV), om te kyk of jy jou geloof behou wanneer jy nie land kan sien nie?
In Eksodus 10 het Hy: ‘…die hele dag en ook deur die nag ‘n oostewind laat waai… die wind [het] die sprinkane begin aanbring… Hy het ‘n sterk wind uit die weste laat waai wat die sprinkane in die Rietsee ingewaai het…’ (verse 13, 19 NLV). Een skrywer voeg by: ‘Toe die Here vir Israel geveg het, het stormwinde hulle verlossing teweeggebring. Eendag, deur God se groot genade, sal ons ook op die see van glas staan en sien hoe stormwinde ons verlossing teweegbring.’
Sielskos: Jos 16:1-19:23; Joh 15:18-27; Ps 148:7-14; Spr 29:16-21