Winde wat teen jou waai (1)

2023-12-09
Handelinge 27:4 NLV

Wanneer jy iets vir God begin doen, sal die Vyand seker maak dat jy winde wat teen jou is, teëkom. Trouens, as jy nie teen die winde seil nie, is die kans goed dat jy in die verkeerde rigting op pad is! Die Bybel sê dat Jesus deur die duiwel op die proef gestel is (sien Matteus 4:1). Satan het nooit daarmee opgehou nie, insluitend die aand voordat Jesus gekruisig is: ‘Satan het… in Judas… een van die twaalf, ingevaar’ (Lukas 22:3 NLV).

Reimar Schultz sê: ‘Waar jy ook al vandag gaan, sal Satan jou êrens op ‘n straathoek, in die kantoor of by die huis probeer beetkry. Hy sal jou laat struikel wanneer jy jou geestelike wapenrusting by die huis vergeet – as jy jou gordel van waarheid in die kas of jou borswapen van geregtigheid by die deur los; as jy jou skild van geloof, die swaard van die Gees en die helm van verlossing vergeet.

As jy in die oggend sê: ‘Ek sal bid wanneer ek ‘n kans vandag kry,’ het jy reeds jou oorwinning weggegee. Kort voor lank sal die verkeerde woorde uit jou mond kom, jy sal na verbode vrugte kyk en ‘n onwelvoeglike houding hê. Die dwaasste ding wat jy kan doen, is om die huis ongewapen en geestelik naak te verlaat. ‘n Dwaas sê: ‘Ek het nie tyd om te bid nie,’ maar later bestee hy baie tyd om te probeer om die skade wat sy versuim om te bid opgelewer het, te herstel. Ons het, van Adam af, elke goeie ding in die koninkryk ontvang, as gevolg van mans en vrouens wat aan hulle geloof vasgehou het toe dinge begin moeilik raak het. Die Bybelse geskiedenis van die kerk eindig met hierdie seëvierende woorde: ‘…En só het ons Rome bereik’ (Handelinge 28:14 NLV).’

Sielskos: Jos 14-15; Joh 15:5-17; Ps 148:1-6; Spr 29:11-15