Hoe om te bid wanneer jy siek is
2023-12-07Jakobus 5:14 NLV
Die Bybel sê: ‘Is daar van julle wat siek is? Dan moet julle die ouderlinge van die gemeente laat kom. Nadat die ouderlinge die siekes met olyfolie in die Naam van die Here gesalf het, moet hulle vir hulle bid. En ‘n gelowige gebed sal die siek mens gesond laat word; die Here sal hom laat opstaan…’ (verse 14-15 NLV). Laat daar dus geen twyfel wees nie: wanneer ons siek is, word ons aangesê om die ouderlinge te roep om ons met olyfolie te salf en vir ons te bid, met die geloof dat ons gesond sal word.
Ons moet ook in tye van siekte vir mekaar bid. Jesus het gesê: ‘Hierdie is die wondertekens wat dié sal beleef wat glo… in my Naam…. sal [hulle] siekes die hande oplê, en hulle sal gesond word’ (Markus 16:17-18 NLV).
As jy vandag siek is, bid die volgende: “Here, selfs al is die dokter se verslag negatief, het U die laaste sê oor my lewe. U Woord sê: ‘U het my gesien voor ek gebore is. In u boek is alles opgeteken…’ (Psalm 139:16 NLV). Vergewe my vir enige deur wat ek vir hierdie siekte oopgemaak het deur nie goed na my gesondheid te kyk nie. Hef my as getuienis van u helende krag op. U is die God wat wonderwerke doen en wat dieselfde gister, vandag en vir altyd is (sien Hebreërs 13:8). Ek neem gesag oor elke gebrekkige deel van my liggaam en beveel elkeen om in die Naam van Jesus gesond te word. Ek beveel dat ek nie voor my vasgestelde tyd sal sterf nie, maar sal lewe om te getuig wat U gedoen het (sien Psalm 118:17). Deur geloof staan ek op U Woord en verklaar: ‘Deur u wonde is ek genees'” (sien Jesaja 53:5).
Sielskos: Jos 8:30-10:43; Joh 14:15-25; Ps 147:1-11; Spr 29:1-5