Weet jy hoekom jy hier is?

2023-12-06
Efesiërs 1:4 NLV

Wanneer dit by God se wil vir jou lewe kom, besluit Hy dit en jy ontdek dit. Dis nie iets wat jy kan verander, ‘n onderwerp waaroor jy kan debatteer of ‘n plan waarin jy ‘n sê het nie. Jy kan God se wil misloop en ellendig voel, of jy kan dinge op sy manier doen en ‘…wonderlike blydskap…’ (1 Petrus 1:8 NLV), ervaar. Die keuse is joune.

‘Maar ek weet nie wat God se wil vir my lewe is nie,’ sê jy. Bid dan die volgende gebed: ‘Here ek is moeg om sonder enige ware doel deur die lewe te gaan. U het elke lewende ding, insluitend vir my, geskape sodat hulle U kan eer (sien Openbaring 4:11). Ek weet dat U ‘n spesifieke werk vir my het. U Woord sê dat U my in die moederskoot gevorm het om u dienaar te wees (sien Jesaja 49:5 NLV). Ek kry baie insette by ander mense, maar ek moet die pad weet wat U vir my gekies het. Help my om op te hou om die gawes en talente wat U in my belê het te ignoreer en af te maak, deur op te tree asof dit nie van belang is nie. Ek weet dat ons almal geroepe is om te dien en ek het u hulp nodig om te onderskei wie, waar, wanneer en hoe ek moet dien. Ek wil dit waarvoor U my bestem het doen en nie deur verkeerde prioriteite, werk of ander mense se begeertes en eise afgelei word nie. Ek wil aan die einde van my lewe kan terugkyk en soos Jesus kan sê: ‘Ek het U op aarde verheerlik deur die werk te voltooi wat U my gegee het om te doen’ (sien Johannes 17:4 NLV). In die naam van Jesus bid ek dit. Amen.’

Sielskos: Jos 5:1-8:29; Joh 14:1-14; Ps 2; Spr 28:25-28