‘n Vader se seën

2023-12-05
Genesis 27:27 NLV

Elke kind wil graag sy pa se seën hê en elke pa is geroepe om sy kinders te seën. Toe Isak sy seuns geseën het, het hy namens God opgetree en sy gedelegeerde goddelike mag gebruik om seën oor te dra. ‘n Vader se seën was ‘n gekoesterde instelling, maar die doeltreffendheid daarvan het op die feit dat Isak sy seuns geseën het as ‘n daad van geloof en nie uit blote sentiment of begunstiging nie, berus. Volgens Hebreeuse gebruik het ‘n vader se seën uit twee elemente bestaan.

1) ‘n Betekenisvolle aanraking. “Jakob het nader aan sy pa gaan staan. Isak voel toe aan hom… Toe sê Isak: ‘Kom nader en soen my, my seun'” (Genesis 27:22, 26 NLV). ‘n Patriarg se seën het die oplegging van hande, ‘n soen en omhelsing van aanvaarding en liefde ingesluit. Jesus het presies geweet wat kinders nodig het, daarom het Hy: ‘…sy arms om die kindertjies gesit, sy hande op hulle koppe gelê en hulle geseën’ (Markus 10:16 NLV). Sulke uitdrukkings van liefde, seën steeds ons kinders wat daarna smag om dit van ons te ontvang.

2) ‘n Gesproke woord van liefde. Voordat hy Jakob geseën het, het Isak gesê: ‘…Die reuk van my seun is die geur van die veld wat die Here geseën het’ (Genesis 27:27 NLV). Vir ‘n stadsjapie mag hierdie woorde dalk nie baie beteken nie, maar vir Isak se seuns wel. Hierdie ou buitelug-patriarg wat van die natuur gehou het, het in wese gesê: ‘Dis my seun – ‘n jagter, ‘n man se man, net soos sy pa!’ Hy kon nie meer bevestigende woorde tot sy seun gespreek het nie.

Pa, laat jou woorde nie krities, neerhalend of onsensitief wees nie, maar woorde wat sê: ‘Ek kan nie trotser wees as om jou my kind te noem nie!’

Sielskos: Jos 1-4; Joh 13:31-38; Ps 130; Spr 28:21-24