God sal jou red
2023-11-262 Korintiërs 1:9 NLV
Voel jy hopeloos oor die situasie waarin jy jouself bevind en weet nie watter kant toe om te draai nie? Miskien sukkel jy om ‘n rede te vind om aan te gaan, jy is so moeg en oorweldig dat jy net wil tou opgooi. As dit die geval is, is jy op ‘n weerlose plek. Pasop – Satan sal jou probeer oortuig dat daar sonde in jou lewe moet wees, of dat jy buite God se wil is, of dat Hy ongelukkig met jou is omdat jy Hom onbewustelik nie gehoorsaam het nie. Moenie dit glo nie! Jy kan in die middel van God se wil wees en alles op die regte manier doen, en steeds teëspoed ervaar.
Die apostel Paulus skryf: ‘Ons wil nie hê dat julle… oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ‘n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ‘n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank’ (2 Korintiërs 1:8-11 NLV).
Twee aspekte is vandag in jou lewe aan die werk. Eerstens leer God jou om op Hom, in plaas van jouself, te steun. Tweedens word die mense rondom jou versterk en bemoedig, soos hulle die genade van God in jou lewe aan die werk sien.
Sielskos: Eks 19:16-20:22; 2 Tim 3:14-4:8