Die kuns om ‘n skaap te wees (2)
2023-11-25Psalm 23:1 NLV
Ons moet twee dinge ken en weet: 1) Ons skaapwagter se karakter. Jesus het goeie skaapwagters van slegtes onderskei (sien Johannes 10:11-16 NLV). Slegte skaapwagters sien na hulle eie belange om en nie na die welsyn van hulle skape nie. Hulle is onbetroubaar; wanneer ‘n bedreiging voorkom, los hulle die skape net daar en vlug. Jesus het egter gesê: ‘Ek is die Goeie Herder…’ (Johannes 10:11). Wat maak Hom goed? ‘…’n Goeie herder offer sy lewe op vir die skape’ (vers 11 NLV). Hulle behoeftes en veiligheid kom voor sy eie en indien nodig, sal Hy vir hulle sterf. ‘Ek is die Goeie Herder. Ek ken my skape en hulle herken My’ (vers 14 NLV). Jesus ken elkeen van sy skape en wil graag ‘n intieme verhouding met elkeen van hulle hê. Hy noem elkeen op sy naam; hulle vertrou Hom en volg Hom waar Hy hulle lei (sien Johannes 10:3). Jy kan op jou skaapwagter vertrou om jou te beskerm en te lei!
2) Die skaapwagter is oor die skaap se toestand besorg. Hy kan nie ‘n goeie skaapwagter wees as daar nie aan sy skape se behoeftes voldoen word nie. Skape ken nie die pad na die weiveld, die ligging van die watergat of die strategie vir hulle eie veiligheid nie. Die skaapwagter ken dit egter. Sy skape glo hom, maak op hom staat en volg hom. Om egter op sy beskerming en voorsiening staat te maak en te glo is nie instinktief nie – dit is ‘n daad van jou wil.
Ongeag jou gevoelens of omstandighede, besluit jy om die herder te vertrou om dinge te hanteer en as jou sekuriteit op te tree. Wanneer jy jou bekommernisse aan Hom oorgee en in sy goedheid rus, vervul Hy sy belofte dat jy niks sal ontbreek nie.
Sielskos: 2 Kron 13-17; Joh 11:38-44; Ps 95; Spr 27:17-19