Die kuns om ‘n skaap te wees (1)

2023-11-24
Psalm 23:1 NLV

Miskien het jy Psalm 23 as kind gememoriseer. Die duidelike visuele beelde bly ons lewenslank by. Die skrywer Hannah Whitall Smith het gesê: ‘Wat ons almal nodig het, is om weer terug te gaan kleuterskool toe en ons kinderlike verse te onthou. Terwyl ons dit lees met die kennis wat ons as volwassenes het, moet ons dit met al ons ou kinderlike geloof glo.’ As volwassenes raak ons afgemat en verloor ons die eenvoudige vreugde wat stresgevulde lewens vereis. Ons moet die volgende drie dinge onthou.

1) Wie ons skaapwagter is – die Here. Hy is die bron van alles wat ons ooit sal nodig kry, insluitend ons redding. Jesus het gesê: ‘Ek is die Goeie Herder. ‘n Goeie herder offer sy lewe op vir die skape’ (Johannes 10:11 NLV).

2) Wat die skaapwagter se werk is – beskermer van en voorsiener vir die skape. Hy weet hoe om eiesinnige, kwesbare skape te hanteer en hulle te versorg. Lank voor Jesus as ons skaapwagter gekom het, het die Vader gesê: ‘Nou red Ek my kudde, en hulle sal nie langer geplunder word nie… En Ek stel een herder oor almal aan, my dienaar Dawid. Hy sal hulle versorg en hulle herder wees’ (Esegiël 34:22-23 NLV).

3) Wat die skaap se werk is – om die skaapwagter ten volle te vertrou. Om sy werk te probeer doen, sal ons uitput en oorwin. Ons moet met al ons ou kinderlike geloof glo dat Jesus ‘n betroubare, toegewyde en bekwame herder is – en dan daarvolgens optree. Die wete dat sy goedheid en genade ons al die dae van ons lewe sal volg, verlig ons huidige bekommernisse en verdryf al ons toekomstige bekommernisse.

Sielskos: 2 Kron 9-12; Joh 11:28-37; Ps 102:18-28; Spr 27:13-16