Jy is ‘n wonder
2023-11-23Psalm 139:14 NLV
Ten spyte van jou skete en pyne, is jy ‘n lewende, asemhalende, lopende, pratende wonder. Die Psalmdigter het gesê: ‘U self het my diepste wese gemaak, my in die moederskoot gevorm. Ek loof U omdat U my so besonder wonderlik gemaak het…’ (verse 13-14 NLV).
Een skrywer verduidelik: ‘Die meeste van ons aanvaar ons sig as vanselfsprekend, maar selfs die eenvoudigste prosesse is geweldig kompleks. Die retina, byvoorbeeld, voer elke sekonde byna tien biljoen berekeninge uit, en dit is nog voordat ‘n beeld deur die optiese senuwee na die visuele korteks beweeg. Die menslike neus kan een miljoenste van een milligram knoffel wat in die lug sweef, opspoor en tussen tienduisend verskillende reuke onderskei. Die hare wat jou liggaam bedek, vergroot die sensasie van aanraking sodat jy ‘n duisendste van ‘n ons druk op die punt van ‘n haar kan voel. Is dit nie wonderbaarlik nie?’
Triljoene chemiese reaksies vind elke sekonde in elke sel van jou liggaam plaas. Jy asem suurstof in, metaboliseer energie, verteer voedsel, handhaaf jou ewewig, suiwer gifstowwe, vervaardig hormone, blaas koolstofdioksied uit, herstel weefsels en laat bloed sirkuleer. Terwyl jy hierdie dagstukkie lees, skiet miljoene elektriese impulse oor miljarde sinaptiese paaie en jy dink nie eers daaraan nie.
Jy moet egter daaraan dink en God loof vir die gawe van lewe en die seëninge wat jy geniet. Jy moet ook nog een uiters belangrike ding doen: Jou lewensdoel ontdek en jouself daaraan toewy om dit te verwesenlik. Daar word gesê dat die twee belangrikste dae in ‘n mens se lewe is die dag waarop jy gebore word en die dag wat jy ontdek hoekom jy gebore is. Dink daaroor!
Sielskos: 2 Kron 6-8; Joh 11:17-27; Ps 102:12-17; Spr 27:10-12