Om vriende met God te wees (1)
2023-11-20Eksodus 33:13 ABA
Luister na meer van Moses se vriendskaplike gesprek met God: ‘Daarom vra ek nou, as U regtig tevrede is met my, sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken, en kan weet U is tevrede met my…’ Moses bevind homself in ‘n nasionale krisis wat Israel se verhouding met God kan beëindig – en waarvoor bid hy? Nie: ‘God, ek is in ‘n moeilike situasie. Los dit asseblief vir my op!’ nie. Nee, hy bid: ‘…sê vir my wat U wil doen, sodat ek U ook kan ken…’
Moses wil meer as net van God se wonderbaarlike werke weet. Sy hart roep uit om God se hart en dit wat dit laat klop – die innerlike wese van God – te ken. God het vir hom gegee wat hy gevra het: ‘Hy het sy wil aan Moses openbaar…’ (Psalm 103:7 NLV).
Hier is nog ‘n deel van God en Moses se gesprek: “Hy vra toe vir Moses: ‘Moet Ek dan self saamgaan sodat jou hart kan rus?'” (Eksodus 33:14 NLV). God het belowe om saam met Moses te gaan en vir hom rus te gee. Enigiemand anders sou hierdie aanbod met graagte aanvaar het. Nie Moses nie. Sy gebed was groter as sy eie belange. ‘…As U nie self saamgaan nie, moet U ons nie eers ‘n tree van hier af laat beweeg nie’ (vers 15 NLV). Met ander woorde: ‘Here, ek bid nie vir myself nie; ek bid vir ons!’ God het Moses se gebed beantwoord.
Is jou gebede groter as jouself en jou eie behoeftes? Die Bybel sê: ‘God het die mensewêreld só liefgehad…’ (Johannes 3:16 NLV). Bid jy vir jou stad, nasie en die wêreld? Jy is geroep om dit te doen en jy moet dit doen!
Sielskos: 1 Kron 23:21-26:19; Joh 10:22-33; Ps 81; Spr 27:1-3