Jy kan nie ‘n getuienis sonder ‘n toets hê nie
2023-11-18Sagaria 13:9 NLV
As jy vandag getoets word, is jy in goeie geselskap! Job, die regverdigste man op aarde, is bo dit wat die meeste van ons ooit sal moet verduur, beproef. Toe hy aan die ander kant daarvan uitgekom het, het hy vir God gesê: ‘Tot nou toe het ek net met my ore van U gehoor, maar nou het ek U met my eie oë gesien’ (Job 42:5 NLV). Jy ervaar God naby en persoonlik wanneer jy in die hitte van die vuur is.
Sheila Schuller Coleman sê: ‘Sommige toetse is bedoel om te assesseer wat ons geleer het; ander is bedoel om ons te leer. Wanneer jou geloof getoets word, is die les wat jy daaruit moet leer die laaste ding waaraan jy dink. Jy wil net oorleef. Die les wat ons egter by Job leer is dat wanneer ons ons geloof in die grootste beproewings behou, ons ‘…soos goud in ‘n vuur…’ (Job 23:10 NLV), daaruit sal kom. Dink daaroor: Het jy al ooit ‘n getuienis aangehoor van iemand wat nie ‘n toets deurgemaak het nie? Jakobus sê: ‘…wanneer julle in allerhande beproewings beland, moet julle eintlik baie bly wees’ (Jakobus 1:2 NLV).
Wanneer ons swaarkry, wanneer mense haatlike dinge sê, wanneer ons ons huis verloor, wanneer ons skeurings in ons familie teëkom, wanneer die dokter met ‘n aaklige diagnose bel – is die laaste ding wat ons voel, vreugde. As iemand met gesag daaroor kon praat om God tydens beproewings te loof, is dit Paulus. Hy is geslaan, in die tronk gegooi en uit die stad weggejaag. Hoe vergelyk jou week met syne?’
Wanneer jy deur hierdie toets kom, sal jy ‘n getuienis van God se krag en getrouheid hê en in staat wees om te sê: ‘Die Here is my God.’
Sielskos: 1 Kron 19:1-23:20; Joh 10:11-21; Ps 50; Spr 26:27-28