Hou dit eenvoudig

2023-11-17
Jeremia 3:15 NLV

Om die gemeente te beïndruk, het ‘n jong proponent die grootste woorde wat hy kon vind in sy Sondagoggend-preek ingewerk. Dit was ‘n ramp! Toe hy van die preekstoel afstap, het hy ‘n ou prediker ontmoet wat sê: ‘Seun, jy het oor hulle koppe gepraat.’ Geïrriteerd en verdedigend het die jong man gesê: ‘Hoekom rek hulle dan nie hul nekke nie?’ Waarop die ou prediker geantwoord het: ‘Jesus het gesê: ‘Laat my skape wei, nie my kameelperde nie!’

Of jy nou op ‘n preekstoel, in ‘n klaskamer of ‘n raadsvergadering is of iemand een-tot-een vir koffie ontmoet, moet jy besluit of jou doelwit is om mense te beïndruk, of om hulle te help. God het gesê: ‘Dan sal Ek vir julle nuwe leiers gee volgens my keuse. Hulle sal julle met kennis en insig lei.’ Jou doel moenie net wees om kennis te kommunikeer nie, maar om begrip te kommunikeer. Die teken van ‘n goeie onderwyser is nie wat hy of sy weet nie – dis wat die student leer.

Om dinge eenvoudig te maak is ‘n noodsaaklike vaardigheid as jy met mense wil skakel. Soos Albert Einstein gesê het: ‘As jy dit nie eenvoudig kan verduidelik nie, verstaan jy dit nie genoeg nie.’ As jy ernstig daaroor is om mense te bereik, moet jy die volgende vier woorde ferm in jou gedagtes hou:

1) Hart. Om iemand te bereik, moet jy hulle op ‘n emosionele vlak aanraak.
2) Hoop. Deur hulle potensiaal en moontlikhede uit te spel, sal jy hulle inspireer om te probeer.
3) Hulp. Wys hulle hoe om dit wat jy sê op ‘n tasbare wyse aan te wend.
4) Humor. Deur vir jou eie foute te lag, laat jy mense besef dat hulle probleem nie uniek is nie – en vir iemand wat sukkel, kan dit die beste gevoel in die wêreld wees.

Sielskos: 1 Kron 16-18; Joh 10:1-10; Ps 105:1-15; Spr 26:23-26