Hou jou hoop lewendig (1)
2023-11-11Hebreërs 6:18 ABA
Lyk jou situasie onmoontlik? Maak jy gereed om tou op te gooi? Moenie! Emilie Batisse was nege-en-sewentig toe sy in ‘n tref-en-trap ongeluk beseer is en dit amper nie oorleef het nie. Toe Norman Vincent Peale haar gaan besoek het, het hy ‘n ry splinternuwe poësieboeke opgelet wat nog nie oopgemaak is nie. Toe hy haar daaroor uitvra, het sy gesê: ‘Ek is mal oor poësie, maar ek het nog nie daardie boeke gelees nie. Ek hou hulle vir my oudag.’ Mev Batisse het tyd gehad om daardie boeke verskeie kere te lees en toe sy uiteindelik op die ouderdom van een-en-negentig oorlede is, was sy besig om ‘n reis na Europa toe te beplan.
Om te hoop is om te wens vir iets om waar te word; geloof is om te glo dat dit gaan gebeur. Toe Cornell Universiteit ‘n studie oor die uitwerking van hoop gedoen het, het dr Harold G. Wolff berig dat mense met hoop ongelooflike laste kan verduur. Een groep het uit vyf-en-twintigduisend soldate wat tydens die Tweede Wêreldoorlog in die tronk was, bestaan. Onderworpe aan dwangarbeid, slegte kos en haglike omstandighede, het baie gesterf terwyl ander net geringe skade getoon het.
Onderhoude met die oorlewendes het ‘n ver bo-gemiddelde vermoë om te hoop, aan die lig gebring! Hulle het hul hoop lewendig gehou deur prentjies te teken van die meisies waarmee hulle sou trou en hul toekomstige huise te ontwerp. Hoop het hulle nie net aan die gang gehou nie, dit het hulle aan die lewe gehou! Dis maklik om te sien hoekom Paulus hoop as ‘…soos ‘n anker wat keer sodat ‘n skip nie wegdryf nie. Ons hoop en ons is seker dat Jesus ons anker is…’ (vers 19 ABA), beskryf.
Sielskos: 1 Kron 3-5; Joh 8:31-41; Ps 99; Spr 25:26-28