Wanneer dit tyd is vir hulle om te vertrek

2023-09-24
Deuteronomium 32:11 NLV

Arende leer om te vlieg wanneer hulle uit die nes geskop word. As hulle aan hulself oorgelaat word, sou hulle nooit die gemak van die nes verlaat nie. Hulle sou dan egter ook nie hul unieke vermoë om op die wind te sweef, ontdek en vervul nie. Dieselfde beginsel is op jou kinders van toepassing. Dis waar dat die meeste tieners nie kan wag om die huis te verlaat nie, maar daar is ook sommige wat ekstra motivering nodig het.

Hoe kan jy jou volwasse kinders kry om aan te beweeg wanneer die tyd aangebreek het? Soms is die probleem nie dat jy as ouer onafhanklikheid weerhou nie, maar dat jou kinders dit nie wil aanvaar nie. Hulle het geen begeerte om groot te word nie. Die nes is net té gemaklik! Hulle kry drie etes ‘n dag, hulle klere word gewas en die rekeninge word betaal. Hulle voel geen motivering om die harde werklikheid in die gesig te staar nie. Sommige sal selfs nie werk kry nie.

Dit is moeilik om tuisgebonde seuns of dogters uit die huis te kry. Hulle is soos klein hondjies wat by die agterdeur lê en wag vir ‘n bak warm melk. Deur hulle egter te laat bly, veral as hulle dit vermy om ‘n werk te kry, kweek onverantwoordelikheid en afhanklikheid. Dis nie liefde wat jy aan hulle bewys nie. Daar kom ‘n tyd wanneer jy sagkens maar ferm die leisels aan jou kinders moet oorgee en hulle moet dwing om op hul eie voete te staan. In sommige gevalle sal jy dalk selfs hul tasse moet pak. As jy hulle egter liefhet en wil hê dat hulle hul Godgegewe bestemming moet vervul, het jy geen ander keuse nie.

Sielskos: Joh 2:1-11; Job 36:22-37:13