Dink buite ‘die godsdienstige boks’ (1)

2023-09-22
Matteus 9:13 NLV

Die skrywer Nicole Eunice sê die vermoedens wat mense oor Christene het, sluit in: “‘Hulle veroordeel my. Hulle is beter as ek. Hulle sal my nie goedkeur nie. Ek sal nie by hulle godsdiens inpas nie. Hulle is net ernstig en niks pret nie.”

Jesus het genoeg partytjies bygewoon dat die Fariseërs hom daarvan beskuldig het dat Hy ‘n dronkaard is. Hy het met verkeerde vrouens vriende gemaak. Hy het met mense omgegaan sodat Hy hulle aan sy Vader kon voorstel. Hy het deur stereotipes gebreek en God voorgestel soos Hy is – toeganklik en genadig. Die mense wat die meeste ontsteld was, was diegene wat van godsdienstige reëls gehou het.

Die konsep van ‘n vrye en vreugdevolle lewe met Jesus mag dalk vir jou eenvoudig klink. Om saam met mense te kuier wat glo en voel soos ons, voel so gemaklik soos ‘n sweetpakbroek. Gemeenskap onder gelowiges is ‘n wonderlike geskenk. As ons egter werklik Jesus se voorbeeld wil volg, moet ons geleenthede soek om diegene rondom ons te betrek.’ Jesus gaan een stappie verder: ‘…Gesonde mense het die dokter nie nodig nie; die siekes wel. Gaan leer wat dit beteken as die Skrifwoord sê: ‘Deernis is vir My baie belangriker as offerandes.’ Ek het gekom om sondaars na die koninkryk te nooi, nie mense wat dink dat hulle alreeds goed genoeg is nie’ (Matteus 9:12-13 NLV).

Hoe kan jy die evangelie deel as al jou vriende Christene is? Sommige van ons het so geïsoleer geraak dat ons hoegenaamd geen sinvolle interaksie met ongelowiges het nie. Hoe meer tyd verbygaan, hoe meer geïsoleer en gemaklik raak ons, totdat ons uiteindelik met die einste mense wat Jesus kom red het, kontak verloor. Paulus het gesê: ‘…Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot redding te bring’ (1 Korintiërs 9:22 NLV). Dink buite ‘die godsdienstige boks.’

Sielskos: 2 Kor 1-4; Mark 14:43-52; Ps 39; Spr 21:9-13