Bid jy vir jou kinders?

2023-09-05
2 Konings 20:19 NLV

Die Bybel sê: “Toe sê Jesaja vir Hiskia: ‘Luister na die boodskap van die Here. Die tyd sal aanbreek wanneer alles wat jy besit, al die skatte wat jou voorgangers versamel het, na Babel weggevoer sal word. Niks sal daarvan oorbly nie, sê die Here. Sommige van jou nageslag sal in ballingskap weggevoer word. Hulle sal as ontmandes in die paleis van die koning van Babel diens doen.’ Toe sê Hiskia vir Jesaja: ‘Hierdie boodskap wat jy van die Here bring, is goed.’ Maar die koning het gedink: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees'” (verse 16-19 NLV).

Hiskia het gehoor dat die dinge wat hy by sy voorgeslagte geërf het verlore sou gaan en dat sy kinders in slawerny by sy vyande sou woon. In plaas daarvan om bekommerd te wees en tot God te bid om namens hulle in te tree, het hy gesê: ‘Daar sal minstens gedurende my leeftyd vrede en sekuriteit wees.’ Hoekom het hy dit gesê? Was hy gevoelloos en onverskillig? Was hy selfsugtig, het hy net aan homself en nie aan die welsyn van sy kinders gedink nie? Was hy fatalisties en het hy gedink: ‘Die profeet het dit verklaar en daar is niks wat ek kan doen om dit te verander nie’?

Vroeër in hierdie hoofstuk toe die profeet Jesaja vir hom gesê het: ‘Kry jou sake in order, want jy gaan sterf. Jy sal nie van hierdie siekte herstel nie,’ het hy tot God gebid om sy lewe te spaar en het hy nog vyftien lewensjare bygekry (sien verse 1-6 NLV). Dit lyk asof hy meer besorg oor sy eie toekoms as sy kinders se toekoms was. Wat van jou? Bid jy vir jou kinders?

Sielskos: Eseg 5-9; Mark 10:23-34; Ps 142; Spr 19:21-23