Sonde is sleg vir jou
2023-08-271 Johannes 3:21 NLV
Wanneer jy bewustelik sondig, plaas dit jou liggaam onder stres. Daar is nie eintlik so iets soos ‘n ‘leuenverklikkertoets’ nie. Die toets kan nie bepaal of iemand lieg nie. Dit meet bloot hoe ‘n persoon se reaksie op sekere vrae hul senuweestelsel beïnvloed. God het ons liggame ontwerp om Hom te verheerlik (sien 1 Korintiërs 6:19-20). Wanneer jy dus sondig, beïnvloed dit jou liggaam negatief. Selfs al het jy nog nooit ‘n leuenverklikkertoets ondergaan nie, kan jy saamstem dat wanneer jy gelieg het, jy waarskynlik ‘n toename in jou hartklop ervaar het. Wanneer God dus vir jou sê om nie te sondig nie, probeer Hy nie jou vreugde steel nie, maar dit bewaar.
Sonde steel drie dinge by jou: 1) Gemak. “‘Vir bose mense,’ sê die Here, ‘is daar geen vrede nie” (Jesaja 48:22 NLV). Wanneer jy bewustelik jou waardes skend, raak jy onrustig in jou eie vel.
2) Karakter. Jou reputasie is hoe ander mense jou sien, maar jou karakter is wat jy sien wanneer jy elke dag na jouself in die spieël kyk. Jou gedagtes bepaal jou dade, jou dade bepaal jou gewoontes, jou gewoontes bepaal jou karakter en jou karakter bepaal jou lotsbestemming.
3) Selfvertroue. Niks in die lewe is belangriker as om met vrymoedigheid na God te kan gaan nie. ‘Geliefdes, as ons gewete ons nie veroordeel nie, het ons vrymoedigheid om na God toe te gaan. Wat ons ook al bid, kry ons van Hom omdat ons sy opdragte gehoorsaam en dié dinge in sy teenwoordigheid doen wat Hom bly maak’ (1 Johannes 3:21-22 NLV).
Die volgende keer wat Satan jou dus versoek om sonde te doen, stop en maak die somme. Wanneer jy na die antwoord kyk, sal jy in staat wees om elke keer die regte keuse te maak.
Sielskos: 1 Sam 25:2-42; 1 Pet 3:1-7