Hanteer versoeking (3)

2023-08-14
Matteus 6:13 NLV

Jesus het ons geleer om as volg te bid: ‘Bewaar ons sodat ons nie aan verleiding sal toegee nie; en bevry ons van die greep van die Bose.’ Verstaan die volgende: Satan probeer jou altyd in die versoeking lei, terwyl die Heilige Gees wat binne jou leef jou altyd uit die versoeking probeer red. Dis interessant om op te let dat die Duiwel beide die versoeker en die aanklaer genoem word. ‘…Die aanklaer van ons medegelowiges is neergewerp, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het’ (Openbaring 12:10 NLV).

Daar is nie so iets soos regverdigheid wanneer dit by die Duiwel kom nie. Sodra hy jou sover gekry het om tot die versoeking in te gee, draai hy om en probeer jou oortuig dat omdat jy ingegee het, kan jy nie meer God se genade en verlossing ontvang nie. Dis egter net wanneer jy jou sonde ontken en God se genade verwerp, dat verlossing nie meer vir jou beskore is nie. Die Bybel sê: ‘As ons beweer dat ons nie sonde het nie, mislei ons onsself en leef ons nie volgens die waarheid nie. As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van elke verkeerde optrede’ (1 Johannes 1:8-9 NLV).

Sommige mense word dadelik uit versoeking gered; ander stry vir ‘n lang tyd daarteen voor hulle uiteindelik verlossing en oorwinning vind. Dis nooit ‘n geval dat God onwillig is om genade aan ons te bewys nie, maar eerder ons onvermoë om dit te ontvang. Of jy dus die maklike pad of die moeilike pad loop, solank jou begeerte is om nader aan God te kom, sal Hy ‘…keer dat die versoeking te sterk vir julle word…’ (1 Korintiërs 10:13 NLV).

Sielskos: Deut 32:29-34:12; Mark 5:11-20; Ps 119:49-56; Spr 17:18-21