Verbind jouself tot die verhouding (4)

2023-08-08
Amos 3:3 NLV

Benjamin Franklin se formule vir ‘n gelukkige huwelik was as volg: ‘Hou jou oë wyd oop voor die huwelik en half toe daarna.’ Een van die redes hoekom huwelike in die skeihof opeindig, is omdat ons net sien wat ons wil sien. As ons ooglopende foute sien wat die verhouding kan vernietig, laat ons ons hart toe om ons kop te oorheers en dink: ‘Hy of sy sal verander nadat ons getroud is.’ Dit wat jy vandag oorsien, verbeur jy die reg om môre oor te kla. As jy dus wys is, sal jy hierdie twee dinge doen voordat jy die besluit neem om met iemand te trou:

1) Bespreek openlik wat jy sal en nie sal aanvaar in die huwelik nie. Dinge soos mishandeling, ontrouheid, alkohol- en dwelmmisbruik, woede en buierigheid, en die koop van goed wat jy nie kan bekostig nie. As jy dink dat dit pynlik is om nou met iemand uit te maak, wag totdat jy getroud is en kinders en huisverbande en families wat betrokke is, het! Die Bybel sê: ‘Sal twee mense saam op reis gaan sonder om eers af te spreek om dit te doen?’

2) As daar nie ernstige besorgdhede is nie, maar jy basies vir die onbekende bang is, gebruik jou geloof in God om die gaping tussen jou vertwyfeling en die vrede wat jy graag wil hê, te oorbrug. Moenie redes uitdink om jouself nie te verbind nie. Die Bybel sê: ‘…Hy sal die heerser wees met die koninklike titels: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors’ (Jesaja 9:5 NLV). Bid saam met mekaar en gee die ‘Wonderbare Raadsman’ ‘n geleentheid om julle in jul verhoudingskeuse te lei. God het die huwelik ingestel; wanneer jy dit op sy manier doen, kan jy die hoogste vlak van menslike vreugde bereik.

Sielskos: Deut 18-21; Mark 3:20-35; Ps 119:9-16; Spr 17:4-6