Bewys liefde en respek

2023-07-26
Romeine 12:10 NLV

Een van die eerste gevaartekens in ‘n huwelik is wanneer julle mekaar as vanselfsprekend begin aanvaar.

Dr James Dobson skryf: ‘Een van die beste maniere om ‘n huwelik gesond te hou, is om ‘n sisteem van wedersydse aanspreeklikheid binne die konteks van liefde te onderhou. Laat ek dit as volg illustreer: Veronderstel ek werk twee ure langer as gewoonlik in my kantoor, met die wete dat my vrou, Shirley, besig is om tuis ‘n spesiale kersligete voor te berei. As ek haar nie bel om te laat weet dat ek gaan laat wees nie, kan jy geld daarop wed dat ek dit gaan hoor wanneer ek by die huis kom. Shirley sal my gedrag as beledigend sien – en sy sal reg wees. Wat sy dus in effek sal sê is: ‘Jim, wat jy gedoen het was selfsugtig en ek kan dit nie sommer daar laat nie.’ Met daardie paar woorde en heel waarskynlik nog ‘n paar ander, sal sy in liefde sê wat op haar hart is en my vir my disrespek aanspreeklik hou. Dan sal ons saam van die voorval aanbeweeg. Sommige dinge in ‘n gesonde huwelik moet beskerm word en wedersydse respek is bo aan die lysie. Dit beteken nie jy moet kerm, beledig, jou maat in die publiek verneder of onbeduidende indiskresies wat oorgesien moet word, uitwys nie. ‘n Werkbare stelsel om mekaar in lyn te hou, kan jou huwelik op koers hou wanneer kwessies van respek op die spel is. Hierdie tipe wedersydse aanspreeklikheid is die beste manier wat ek ken om n onverwagte ontploffing, wanneer opgehoopte wrokke en woede ‘n kritieke stadium bereik, te vermy.’

Dus: ‘…julle [moet] mekaar in liefde koester en voor in die ry staan om mekaar met respek te hanteer.’

Sielskos: Hand 18-19; Matt 27:57-66; Ps 42:1-5; Spr 16:16