Hulle sal terugkeer daarheen

2023-07-25
Spreuke 22:6 NLV

Plant God se Woord diep in jou kind se hart wanneer hulle begin loop en praat. Dit waarborg nie dat hulle nie die pad byster gaan raak nie. Baie van ons het die verkeerde pad geloop voor ons die regte pad begin volg het. Jy moet egter seker maak dat hulle weet waar die ‘regte pad’ is.

Stel jou voor die salm wat in Noord Kalifornië uitbroei, in ‘n kanaal vrygelaat word wat na ‘n spruit, die spruit na ‘n rivier en die rivier na die Stille Oseaan, lei. Die salm swem duisende kilometers. Dan, asof hy beveel word, begin hy die lang reis terug na die plek waar hy uitgebroei het. Hy vind nie net die plek waar hy in die see ingekom het nie, maar ook die rivier, die spruit en die presiese inlaat waaruit hy vrygelaat is. In een gedokumenteerde storie het ‘n salm homself deur ‘n drein opgewerk en dwarsdeur ‘n stewige deksel bo-op ‘n vertikale pyp van drie voet gedruk, om sodoende in dieselfde tenk te beland waar hy uitgebroei het. Unieke merke op sy vin het bevestig dat dit dieselfde salm was.

‘Leer ‘n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie.’ Hierdie Skrifgedeelte beteken dat jy jou kinders, wanneer hulle jonk is, ‘n voorsmakie van die dinge van God moet gee en wanneer hulle ouer word, sal die wêreld nie hul smaak bevredig nie en sal hulle na hul geestelike wortels terugkeer. Doen getrou jou deel en vertrou God om syne te doen. Jou deel is om hulle te onderrig, lief te hê en vir hulle te bid. God se deel is om hulle terug te trek. Hy sal dit doen, want Hy het hulle selfs liewer as wat jy hulle het!

Sielskos: Hand 16-17; Matt 27:45-56; Ps 1; Spr 16:10-15