‘n Tyd om versigtig te wees
2023-07-191 Korintiƫrs 10:12 NLV
Die tyd om versigtig te wees is nadat jy jou doelwitte bereik het en jy besig is om jou oorwinnings te vier. Daar is drie deurslaggewende punte in elke stryd en glo dit of nie, die maklikste een is soms die geveg self. Die moeilikste punt is die tydperk van besluiteloosheid reg voor die konflik – om te bly staan en te veg of weg te hardloop – die stryd tussen geloof en vrees. Die gevaarlikste tyd is egter by verre die nasleep. Wanneer jou hulpbronne op is en jy gerus begin raak, moet jy op die uitkyk vir dinge soos oormoed, dowwe reaksies en foutiewe oordeel wees.
Onthou jy koning Dawid se verhaal? ‘Die volgende lente, die tyd dat konings gaan veg, het Dawid… in Jerusalem agtergebly. Laat een namiddag… het Dawid… ‘n besonder mooi vrou wat besig was om te bad [gesien]… Dawid het haar laat haal…’ (2 Samuel 11:1-2, 4 NLV). Dawid het gekies om tuis te bly eerder as om te gaan veg. Wie weet hoekom hy so besluit het? Miskien het sy indrukwekkende oorwinnings hom sag gemaak, of hy het agtelosig geraak, of hy het arrogant geraak. Dit was slegs ‘n kortstondige verhouding, maar dit het alles verander. Sy vrede het verdwyn, sy karakter was verwoes en sy familielewe was vernietig.
Moenie die gevaar loop om as gevolg van jou vorige oorwinnings jou skanse te laat sak nie. Om op jou louere te rus is sinoniem daarmee om met rampspoed te flankeer. Moeilikheid wag op die man of vrou wat in die gemaklike land van vervulde drome woon. Die woord vir jou vandag is dus: ‘Daarom – as julle dink julle staan sterk, moet julle oppas dat julle nie ook tot ‘n val kom nie.’
Sielskos: Hand 6-7; Matt 26:57-75; Ps 133; Spr 16:2